Monday, 27 November 2017

Blesbokfontein en Pretorius familie


Willie Pretorius. die skrywer en verteller.
 
 Willie Pretorius is oorlede op 15 Julie 2020 aan covid 19 infeksie.  
Hy was 99 jaar en 6 maande oud. As gevolg van die covid 19 inperking is daar n virtuele begrafnis vir hom gehou. Dis te sien op youtube.com. onder huldeblyk oom Willie Pretorius, Ds Freddie Nortje 

Hier volg sy verhaal.

Ek Willem  Lodewikus Pretorius is gebore op 25 Januarie 1921 op die plaas Blesbokfontein distrik Venterdorp en hierdie is ons verhaal en geskiedenis.

My ouers was Jacobus Nicolaas Pretorius ( Oupa Nick) en Maria Magdalena Lindford. (Ouma Malie).

Ons was 5 broers en 2 susters waarvan ek die enigste oorlewende is. Ek is nou ( 2018) 97 jaar oud.

Hendrik Dawid,(  Luk) Jacobus Nicolaas (  Koot) Cecilia Anna ( Cilie of Sus ) Nicolaas Willem (  Nick) Philupes Johannes (  Flip)  Maria Magdalena (  Marie of sussie) en dan ek Willem Lodewikus

Blesbokfontein was ‘n pragtifge plaas net buite Venterdorp in die Noordwes Provinsie.

Die was deur ‘n spuit in ‘n noordelike en suidelike deel verdeel is. Daar was verskeie inwondenes. 
My Pa Nicolaas had 5 suster en een broer, Almal het op die plaas gebly.

 My ouers pa Nicolaas en ma Malie gebore Lindford

Oom Hannes en tan Sofia van den Berg. – pa se suster.

Oom Dirk en tan Haan Francis – pa se suster.

Oom Douw en tan Saar van den Berg – pa se suster.

Oom Flip en tan Tien Pretorius – pa se suster.

Oom Hendrik en tan Naat Pretorius – pa se suster.

Oom Jan en tan Alida Pretorius. pa se enigste broer.


Daar was ook ander inwoners.

Oom Koos en tant Bettie Buitendag.

Oom Thyse Buitendag ‘n wewenaar wat saam met my verjaar het.

Oom Jaap Kruger ‘n wewenaar.

Tant Hannie Pretorius n weduwee. Sy was broer Nick se skoonma.

Oom Coetzee en se vrou.

Oom Dewald Smit ‘n wewenaar met 2 seuns.

Oom Jan en tant Martha van den Berg.

Oom Dirk en tant Siena van den Berg.

Oom Jan en sy vrou – bg Dirk se pa en ma.

Mnr JJ Botha ons skoolhoof.

Mnr Gert Yssel en sy vrou – ons onderhoof en onderwyser.

Oom Ben en tant Mina van den Berg. Oom Ben was ‘n baie goeie vriend van oupa Nick.

Al begoeneomde het op klein stukkies grond geboer en n bestaan gemaak met oa mielies, koring, sorgum en sonneblom. Die plase was baie klein in vandag se terme. My pa Nicolaas het  gereeld grond bygehuur en aangekoop.

Die eerste motorkar.

 1926.  Ek en my neef Willie van den Berg was omtrent 5 jaar oud toe ons die eerste mototkar sien omtrent Ek dink dit was ‘n Model T Ford met ‘n seil dak. Wanneer daar ‘n motorkar verby gekom het, het ons pad toe gehardloop om vir die mense te waai en dan het ons plat op die maag in die pad gaan le en aan die spore geruik. Wat ons verwag het om te ruik weet ek nie. Motors was baie skaars. Niemand op die plaas het een gehad nie.

 Pilot word. 1926

Ek moet vertel van ek en my neef Willie van der Berg besluit het om “ pilots” te word. Ons was omtret 5 jaar oud. Daar was ‘n groot hoop blare na dostyd en ons twee het vir ons ‘n huisie met blare gemaak en lekker gespeel. Ons het ‘n geraas gehoor en  soos gewoonlik pad toe gehardloop om vir die mense te waai maar ons sien geen stof of kar nie.Die geraas word al groter en ons skrik ons boeglam toe ‘n vreeslike groot voel in die lug sien wat die geraas maak. Vreesbevange hardloop terug na die blare in kruip so diep as wat ons kan weg. Ouma Malie roep en roep van die huis af  dat ons na die vliegtuig moet kyk maar hoe meer sy roep hoe dieper kruip ons weg. Ons was seker sy wil ons waarku dat die voel ons dalk kan vang, Dit was eers na un ruk toe alles doodstil was dat ons huistoe gehardloop het. Ouma verduidelik toe dat dit ‘n vliegtuig was met ‘n man wat dit beheer. Ons wou weet of die voel die man gevang het. Nee het sy gese dis ‘n pilot wat dit beheer soos die bestuurder van ‘n motorkar

Pilot was vir ons twee die pragtigste woorde wat ons gehoor het en daar en dan het ons besluit dat as ons groot is gaan ons pilots word.

Ons Skool.

 Ons het ‘n pragtige skoolgebou op die plaas gehad. Dit was n nuwe skool van sandsteen gebou, party reghoekig ander vierkantig almal 90grade gekap. As ek reg onshou het dit net 3 klaskamers gehad waarvaan die grootste 2 rug teen rug was met‘n houtafskorting wat kon oopskuif  Die panele was omtret 1.5m breed  dan teen die mure opgestapel het. Die swart borde van die twee klaskamers was aan die teenoorgestelde mure. Met die afskorting oop het dit ‘n redelike saal gevorm. 

Af en toe het daar ‘n kunstenaar opgetree. Die eerste sanger waarvan ek kan onthou het ons “Blesbogers” bedank vir die ondersteuning. Almal het lekker vir sy blesbogers gelag. Hy se toe verder hy is bly da tons nie aanstoot neem nie want laas week was ht by Caledon en toe hy Caledonners noem wou hulle hom net braai.

 Die skool her verder 2 stoepgehad. Een vir seuns en een vir meisies. Op elke stoep was ‘n groot waskamer met 5-8 wasbakke en hake vir hoede en jasse. Die toilette was aparte geboue. Dan was daar die shoolhoof se huis. Alles van sandsteen gebou. Verder was daar ‘n windpomp en kamp vir wieding vier die donkies en perdie waarmee die kinders skool toe gery het.

 Ons het drie onderwysers gehad. Mnr Botha die hoof . Mnr Yssel onderhoof en juffrou Rossouw.vir die kleintjies. Die skool was net tot standard 6 vandag se graag 8.

Die ongeluk 1928.

Ek was in graad 2 toe dit gebeur het. Die was 1928.  My oudste broer Luk het naweke per trein op die plaas kom kuier. Hy het in Johannesburg gewer.  Daar was n spoorweghalte op die plaas Groot Modderfontein. Ons moes die betrokke Sondagmiddag Luk by die halte met n perdekar besorg. Ek en my broer Flip het dag gewoonlik gestry om saam te ry want dit was n belewenis om n trein te sien al het dit beteken dat ons die hekke moes oopmaak. My broer Koot was die drywer.

By die eerste hek wat ek moes oopmaak was daar probleme. Die een perd was eintlik n groot strek ryperd met die naam Flink maar Flink het niks van van kartrek gehou nie en was nukkerig en onrustig. Koot het mooi gepraat en ons deur die hek maar toe ek opklim wou Flink niks weer weet nie. Koot gee hom toe n harde hou met die karwats en Flink byt die stang in sy bek was en hardloop die veld in. Die ander perd Ou Rose het nie n keuse nie en hardloop saam. Koot hang aan die leisels  maar hulle hardloop in die veld in asof daar nie eers n kar after is nie.

Die perdekar se wiel tref toe n miershoop en slaan om. Ek het half onder die kar ingeval en broer Luk  trek my daar uit en vra toe nog of ek seergekry het. Net my wang aantwoord ek maar toe ek om my linker been trap vou dit onder my knie dubbel en sien die bloed deut my kous blou.. My voet sit toe lanks my knie en die gebreekte bene steek deur die kous. Luk en Koot dra my na die Coetzee’s  plaashuis daar naby waar hulle die bloeding probeer stop.

Broer Koot hardloop  die  3 of 4 km terug na ons huis waar my ma en pa gou  n draagbaar aanmekaar slaan, Ander familielede sluit by hulle aan op pad terug na die Coetzee se huis en so word dit n taamlike stoet mense.

Broer Flip is met n fiets gestuur na die plaas Kaalfontein waar daar n telefoon ws om Dr Cochrine te ontbied.

 Dr Cochrine het voor sononder op die plaas aangekom. Hy het my verdoof en terwyl iemand my skouers vashou die gebreekte been reguit getrek sodat alby bene ewe lank was. Hy die die been met twee houtspalke gespalk en wasgedraai met n verband en instruksies gegee dat ek vir drie tot vier weke op my rug moet le en dan wil hy my weer sien.

My ma het gereeld my rug met salf ingesmeer om bedsere te voorkom.

Na drie weke het my pa my my met dieselfde kar en perde Venterdorp toe geneem. My been is toe in gips gesit en kon ek met twee krukke loop. Na n verder drie weke is die gips afgehaal em kon ek terug skool toe. Ek het kruppel geloop omdat ek bang was om hard op die beem te trap.

Dis ook nie lank nie of die skoolkinders gee my n bynaam – Ou Kruppel. Dit was die beste medisyne want dadelik het ek probeer reg loop.  Dievolgende jaar kon ek sokker speel en was ek die regter vleul van die tweede span.



Monday, 23 October 2017

Oom Willie

Oom Willie kwalifiseer as vlieenier


Huldeblyk deur Nico Pretorius, Oom Willie se seun Julie 2020

Liewe viende en familie

Ek is jammer dat ons n begrafnis  vir my pa op hierdie manier moes doen want dis buite ons gebruike en kultuur. Tog is ek oortuig dat dit die veiligste en beste opsie was in hierdie onsekere tyd en aaklike omstandighede.   

Tannie  Pattie en my pa was baie goeie vreinde die agelope paar jaar. Hulle het ure lank gekuier en baie gesels  gelag so tussen die cuppachinos deur slefs n glasie Hanepoot  of Amarula.  My pa het altyd gese hy en tannie Pattie was n tweeling in gees. Wilmarie het opgemerk toe sy tannie Pattien ontmoet hoe baie tannie Pattie haar  herinner aan my pa se jongste suster tannie Marie Mostert  haar oe, glimlag en vriendelikheid. Dit  was altyd gerustelled om te weet dat my pa geseldskap het , dat daar iemand is wat vir hom uitkyk en d at hy nie alleen was nie.  Tannie Pattie is n dag na my Pa ook aan covid19 oorlede. Dit was binne 12 ure nadat sy die eeste covid simptome getoon het.  Ons  innege meegevoel  aan tannie Pattie se dogters  Suzette en Karen en ook hul gesinne. Julle ma was n wonderlike mens en het vir my pa geweldig baie beteken. Ons is dankbaar dat hulle paaie gekruis het end at hulle tot op die einde vreugde en liefde en geluk so ervaar.

 Baie dankie neef Freddie vir jou boodsap en jou advies en reelings om die internet roudiens mootlik te maak.  Terwyl ek die opname maak is jy ook besig om joune te doen.

Dankie Thys Pretorius. Nie net vir jou pragtige woorde nie maar ook vir al die jare wat jy met ons familie kontak gehou het.  My pa het dit baie waardeer en soook ons.

Ons dank ook aan die personeel van witfield park Sedert 27 Maart was daar baie streng voorsorg om die infeksies te beperk  Hulle het deurlopend altyd my pa goed versorg en sy belange op die hart gedra

Ek en Wilmarie oorweldig  deur  al die oproepe boodskappe en wense wat ons ontvang het.  Ons waardeer dit baie en put ons krag en vertroosting daaruit. 

Besondere dank aan Rob Smith. Ron was my pa se buurman en hulle paaie gekruis toe my  pa 90 geword het net na my ma oorlede is .  Rob iwas n wonderlke vriend vir my pa. Hy het my pa gehelp met honderde goed om die lewe vir hom makliker te maak. Na my Pa verhuis het na Witfield park het hysteeds kontak gehou, my pa gereeld besoek en baie uigeneem om te gaan eete kuier en soms ook van my pa se medeinwoners   Hulle laaste kuier was toe Rob hom net voor lockdown kom haal het om  die groot tiger month model te wys wat Andre rob  besig was om vir my pa te bou. Tussen die fotos sal julle Rob en my Pa op sy 99ste verjaardag sien met die model en ook n foto van die voltooide model. Tragies dat agv lockdown  my pa nooi te voltooide model kon sien nie. Rob jou vreinskap hulp en moite  dei afgelope tien jaar word opreg waardeer en sal ons altyd bybly  Baie dankie.

Dis tragies dat ma pa laas week woensdag alleen sterf sonder enige bekende om sy sterfbed of n laaste gebed sterf.  Ironies want hy was vir so baie mense deur sy lewe besoek en vertroos  in hulle laaste dae en ure.  Veral in die aftreeoord het hy gereeld inwoners  in nood besoek vertroos en gebid.

Ek het die afgelop paar dae baie tyd gehad om te besin oor sy lewe waarvoor hy getsaan het en wat ons vorentoe kan saamneem.

My vrou brskryf hom as a  kind en gentrle soul

My pa vertel da thy n belofte gemaak het dat as hy die oorlog oorleef hy sy lewe aan die here sy kerk en geloof so wy en hy het dit gedoen. Hy was n baie aktiewe lewende lidmaat van die Hervormde Kerk . Na byna 60 jaar as kerkraadslid bedank hy om my ma voltyds te versorg. Na haar dood skakel hy weer aktief by die gemeentlike werksaamhede in. Hy was toe al 90 jaar. Behalwe vir die paar jaar wat hy my ma voltyds versorg het het hy net by uitsonderingi n Sondag erediens gemis . Hy het dit gedoen as n leefwyse.  Dit was vir hom belangrik. Hy het daaruit geleer end it het sin aan sy lewe Hy het elke dag sonder uitsondering sy bybel gelees en gebid.Nie omdat hy skuldig of verplig gevoel het nie maar omdat hy wou. Sy  laaste grooddruk bybel het hy letterlik stukkend gelees. Dit het soos n handbook wat oor en oor gebruik is gelyk. Wilmarie moes dit onlangs herstel want dit het in letterlik in stukke uitmekaar geval.  Alles wat hy na gesoek het om n wonderlike lewe te geniet  het hy in die Bybel gaan soek en gevind. Dit was die alpha  en  omega vir hom.  Hu het nie nut gesien om dander geskrite te raadpleeng nie. Toe hy op 94 na Witfield park verhuis het hy dadelelik by die bybelstudie groep aangesluit. N hoogepunt was  Maandag aande se  huisgodsdiens vir die inwoners wat hy meestal gely het meestal gelei het Die laaste moes Tannie Pattie die leeswerk in die swak lig namens hom doen.

Wat onthou ek van hom.  

Hy was n eenvoudige mens was min waarde aan aardse goed geheg het en met min tevrede was. Sy lewe ly hy op n geestelike vlak

Hy was altyd blymoedig.  Maklik gelag en vriendelik. Het maklik met vreemdes gesel. My pa het nie geweet hoe om nors of onvriendelik te wees nie.  Hy was nooit in n slegte buinie. Hy het nooit kwaad geword nie.  Opgeruimd vriendelik en positief. Hy het nooit gekla nie – dit het altyd goed gegaan  Hy  was emosioneel baie sterk. Hy was hartseer na n geliefde se afsterwe maar het vinning weer aanbeweeg met n houding van daars nog baie om voor te leef. Hy het die lewe altyd geniet en as dit sy keuse was su hy nog vir etlike jare met ons gewees Hy was terseldetyd nie bang vir die dood nie en geweet as sy tyd kom sal hy gereed wees.

My was geweldig aanpasbaar en het berus by sy omstandigheid. Die veranderling met ouderdom in sy lewe en gesondheid het hy met gelatenheid aanvaar en aanbeweeg.    Daar was geen wroeging gewees toe hy sy huis moes verkoop of ophou motor bestuur nie of by n nuwe gemeente moes inskakel nie.   Hy het alles met gelantenheid aanvaar positief gebly. Hy maak aanhoudend nuwe vriende en behandel almal was sy pad kruis self onbekendes met vriedskap deernis en empatie.   Vyande het hy nie gehad nie.  Hulle het of  die lig gesien of die pad gevat.

Hy oordeel nooit iemand nie maar bid altyd dat hulle gelei en bemoedig sal word deur werking van die die heilige gees. Hy het dit verstaan en onwrikbaar daarin geglo.

Hy was  altyd baie dankbaar vir alles wat sy kant toe gekom het. Hy het bittermin verwag en was uit verband dankbaar vir selfs klein goedjies soos my laaste vadersdag geskenk aan hom was bottle Hanepoot wyn.  

My Pa is wonderlik geseend in sy lewe. Nie met aardes goed nie maar met goed wat regtig jou lewe gemaklik en gelukikig maak. . Hy het nooit n siekbed in sy lewe ervaar nie.  My pa sluit sy werklewe af sonder om  n enkele dag siekteverlof hoef te neem.  Sy totale tydperk in n hospital  tot en met sy opname in frail care verlede Dondedag  was  3 dae vir n liesoperasie.  Selfs die prostaat en velkanker wat hy in sy laat negentigs  ontwikkel  het word gou en maklik suksesvol behandel.  Ek het altyd met hom gespot en gese “ As pa eendag Hospitaal toe gaan pa daar sterf want pa se liggaam gaan nie weet hoe om dit te hanteer nie” Dan het  gelag en geantwoord.”Ek tel my seeninge”

Nooit in sy lewe ervaar he enige noemens waardige teespoed nie. Nooit beroof besteel ongelukke of geldelike nood nie.

Hy ontvang  in oorvloed wat hy nodig het.  Self finansieel werk goed baie goed vir hom uit.  Hy was vir 40 jaar op pensioen en hy sterf sonder om n dag se geldelike nood of kommer .

Hy was n eenvoudige mens want uit die bybel geneem en geleer het vir himself n kommervry vrugbare en vreugdevolle lewe geskep. Hy dink hy is deur n skare engele vir 99 jaar en 5 maande behoed en bewaar is tot dit sy tyd was om die tydelike vir die ewige te verwissel.  

Wat het ek by hom geleer.  Geloof, Vertroue Eenfoud. Blymoedighedi. Aanpasbaarheid. Berusting. Dankbaarheid en  kommervry end at die Here sal voorsien..Ek leer ook by hom dat  mens jou eie realiteit op aarde kan skep deur jou geloopf jou ingestelheid jou denke, jou  gebede.

Ons her gisteraand wyn gedrink en sy lewe gevier. Ons was bevoorreg en baie dankbaar dat sy lewe vir so lank deel van ons lewens was.

Vir die van julle wat dalk in hierdie  onsekere tyd bevrees en in nood is – dink oor hoe oom Willie dit so hanteer het - Vra en vir jou sal gegee word self meer as wat jy nodig het. Glo en jy vind.

Ek sluit af met die laaste sin van sy tafel gebed.

 Voed ook on siele met die hemelse speise u heilige gees. Amen


My pa Willie op sy 99ste verjaardag saam met sy buurman Rob Smit van Fishers Hill 







In Januarie 2014 kort na sy 93ste verjaardag vlieg hy vir die laaste keer in n Tiger Moth vriegtuig. Op die foto is ek, Wilmarie se seuns Simeon en Joshua, pa Willie, die eienaar en loods. Heel regs my seun Nico.

Tannie Marie ( Sussie) Mostert

Cielie Mostert Theunisen se onthou.

Ma Mossie het ons geleer om die lewe te vat soos dit kom en om die beste daarvan te maak. Om te lag al wil jy huil. Om die humor in elke situasie, al is dit ‘n slegte situasie, raak te sien. So het ons o.a. Kobie en die invloed van ‘n gestremde op ‘n familie leer hanteer.

Sy het ons geseën met haar talente … skeppend met woorde en met haar hande. Sy was so lief om kosmos te skilder en was mal oor ‘n donkie. In my huis, en ook in my skoonma se huis, is donkies wat sy geteken het ... altyd saam met blomme. Oom Willie, ek hoor by Nico dat oom ook nog ‘n skildery van haar in jou kamer het ...

Sy was ‘n wyse vrou en bitter baie lief vir haar mense. Ek dink van al die kinders was ek die meeste bederf omdat sy vir 15 jaar by ons ingewoon het. My kinders het wonderlike herinneringe aan ‘n dierbare ouma.
Haar lewensteks was Spreuke 30:7-9:
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie:
Moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;
Moet my nie arm maak of ryk nie,
Gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën nie en sê: Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Ek onthou al van kleintyd af haar vertellings oor haar korrespondensie met Fanus Rautenbach met ‘n program wat hy op afrikaanse radiodiens gehad het. Sy was dink ek minister van “Huis-en-haard en plaaslike aangeleenthede”. Sy het haarself “Boervroutjie” genoem. As ek reg onthou het hy partykeer ook per telefoon gesels met haar. Dit was in die omgewing van 1964 – ek was maar toe 5 jaar oud en Kobie nog nie eens daar nie. Lank gelede....

Sy het baie vertel van die plaas en ek dink sy was maar ‘n alleenkind so in haar eie verbeeldingswereld. Sy het o.a. vertel van al haar katte wat in die stad gaan werk het en wat vir haar baie geld sou inbring volgens die boeties se stories .... later eers besef hulle is van kant gemaak. Syt vertel syt ‘n draadpoppie gehad – lank en maer – en hoe sy vir die poppie klere gemaak het. Sy het ook haar katte aangetrek.

Vertel van nagmaal naweke. Dit het altyd vir my so lekker geklink.

Vertel van perdekar ry dorp toe. Ouma het altyd ‘n hekelwerkie by haar gehad en al sou die perdewa probleme langs die pad optel, het sy gesit en hekel om die tyd om te kry.

Vertel van nuwejaar en hoe almal bymekaar aangesluit het op pad na ‘n piekniekplek.

Vertel van troues en ‘n storie van “pen steek” of so iets – al die jong manne te perd - wat  ‘n troutradisie was en dan het jy die wit vlag gewen wat jy dan heel voor op jou perd tot by die onthaal kon neem . Een keer het oom Flip die vlag gewen wat ‘n groot storie is as jy gewen het ... dalk onthou Oom meer van dit.

Sy vertel van ouma en oupa wat so vroegoggend stiltetyd gehou het en dan ook saam halleluja liedere gesing het. Ek onthou vaagweg daarvan maar was maar pas 5 toe ouma oorlede is.  Soms wonder ek of mens regtig onthou ... as ek so praat van vaagweg ... en of dit ‘n mens se verbeelding is en omdat jy die opset van die plaas in herinnering kan roep, jy jou eie onthou rondom vertellings bou ...

Sy het vertel van ‘n Van den Berg gesin waarvan die pa so vroeg oorlede is en daar ek dink 9 kinders was wat toe in die weeshuis geplaas is omdat sy nie voltyds na hulle kon omsien nie want sy moes toe as verpleegkundige voortgaan met haar werk. Die kinders het dan skoolvakansies huis toe gekom.Sy het vertel die tannie Van den Berg het jaarliks ‘n trommel vol koekies gebak wat sy vir die kerk se basaar gestuur het. Ouma moes dit dan by die basaar besorg. Ma Mossie het altyd so geloer na die koekies, mooi verpak in hopies, soort by soort en so lus geword daarvoor maar sy kon niks daarvan eet nie want Ouma het gese dit is die kerk se goed. Hier in Pietersburg is een van my groot vriendinne Isabel van den Berg en toe sy en ma Mossie een dag so lekker sit en gesels kom my ma agter dat Isobel se man Johan, een van die Van den Berg kinders is.  Oupa het hul altyd op die stasie gaan haal met skoolvakansies en dan weer op die trein gaan sit as die skole weer begin. My ma het altyd saam gery. Sy het groot agting gehad vir die Tannie Van den Berg wat altyd gesorg het dat die kinders na ‘n skoolvakansie skoon en netjies terug is skool toe vir die volgende termyn. 

Sy het vertel van iemand wat sy vrou met ‘n byl dood gekap het en toe na ouma toe gekom het vir hulp. Bebloed en hoe ouma gaan help het ... klink na ‘n riller storie.

Syt vertel van Tannie Sus toe sy al uit die huis was en “slim” gaan word het in die stad, ouma se huis so kom herrangskik het as sy naweke kom kuier het. Ouma het dit maar toegelaat en as tannie sus terug is stad toe, alles maar weer teruggeskuif het soos dit was. Ek dink my ma en ouma se persoonlikhede was baie dieselfde ...

Ma Mossie was deur die plaasvolk “Mapir” genoem wat iets beteken het soos “Die ounooi het jou gekry toe sy al oud was”.  Syt ‘n gediggie geskryf van
                Seringboom bessie,
                Seringboom blom
                Mapir, Mapir,
                Jy’t huis toe gekom.
Die seringboom beteken in my onthou “plaas”.  Die skoppelmaai. Die buite koelkamer. Die rieme aan die takke. Die lekker speel ... oupa het sy tabaksakkies vir my gebere en as ek kom kuier het het ek die sakkies vol seringbessies gemaak en huis toe gevat. Om wat mee te maak??
Hy het ook ‘n sakkie vol sente vir my gegee vir sommer net ....

Ek onthou haar stories van die Patsies ... die hasie familie ...  en hoe sy altyd situasies in die huis ingeweef het in haar vertellings en ons so lewenslesse geleer het. Kon nooit verstaan hoe die hasies so alles van ons doen en late kon weet nie. As ons gevra het hoekom ‘n babatjie se naels vuil kan raak want hulle slaap dan net heel dag het sy o.a. gese dit is omdat hulle in die aand in die Patsies se tuin moet gaan werk. Met groot wysheid en ‘n lewendige verbeelding het sy ook ons lewens met woorde en stories helder ingekleur ...

Die volgende is ook deur haar geskryf ...
“Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer. Die Allerhoogste wat in liefde oor sy Koninkryk regeer ....”
Wanneer ek hierdie lied sing of hoor dan voel dit vir my asof ek reeds in marsjeer deur die mooi roomblink pêrelpoort. Ek sien die onbeskryflike fondamente van die 12 soorte edelstene, loop verby die engel wat op wag staan, verby die wonderlike goue lig wat jou toevou en omstraal, loop langs die kristal helder stroom by die boom van die lewe verby, op die blinkende goue strate tot voor die troon van God. Dit alles is so onbeskryflik mooi en waar en reg. Die Here God verlig alles en die Lam is sy lamp.
Die Grootsheid hiervan kan by die lees alleen my laat voel soos ‘n opgerolde wurmpie.
Genade is dat ek nie vir die Nuwe Jerusalem hoef te wag nie. Ek kan reeds nou voor God se blinkende, winkende troon staan, so maklik soos: buig af, maak jou oë toe en jou gemoed oop en sing: “Loof Hom, prys Hom Halleluja. Hy is Koning, Hy regeer


Nig Rina het bg geskryf oor haar Ma tannie Sussie.

                           Nig Marie Gouws (Mostert) het hierdie skrywe van tannie Sussie gestuur.



Oom Nic

Oom Willie skryf.

My broer Nick (Nicolaas Willem Pretorius gebore 1916 sterf 22 Maart 1984)

Nick was in ons gesin bekend as die stil sterkman. Hy was stewig en sterk gebou. My broer Flip jonger as Nick was die kapokhaantjie van die gesin en hy het toe hulle tieners was gereeld vir Nick uitgedaag vir ʼn geveg of getart en self verkondig dat hy eendag Nick se nek gaan breek. Flip het geglo Nick was bang vir hom.  

Op ʼn dag het die twee toe in die land waar ons gwerk het  handgemeen geraak en Nick het vir Flip ʼn pakslae gegee en sy grootpraat heeltemal uit hom uit geslaan. Dit was die einde van Flip se grootpratery. 

Toe Nick so 13-14 jaar oud was het hy een nag ʼn epileptiese aanval gehad en van die bed afgeval en sy tong stukkend gebyt dat die bloed loop. My pa sukkel om sy mond oop te kry sodat hy kan asemhaal. 

My ma Malie kry toe die raad van Katjiepoet olie ( Catje Putje olie ) op suiker vir broer Nick. So werk dit dat wanneer hulle ons alleen by die huis moet laat my ma Malie dan vir my en Flip gewys hoeveel druppels op suiker ons vir Nick moes gee ingeval van ʼn aanval.  Flip het dan sommer vroeg reeds die medisyne gereed gehad vir Nick. 

Nick het ons toe begin manipuleer. “ Ek sal drink as julle dit of dat vir my doen”  Ons was so bang dat hy aanval kry dat ons enigiets gedoen het solank hy sy medisyne drink. 

Ons dokter Cochrane was ʼn Skot wat nie ʼn word Afrikaans kon praat nie. My ouers kon ook geen woord Engels praat nie. Die ander geneesheer Dr Schullenberg was weer ʼn Duitser  wat ook geen Afrikaans kon praat nie. Hoe ons gediagnoseer en behandel is het bly ʼn raaisel.

Beide broers Nick en Flip speel eendag vir die skool se eerste span sokker. Nick soos genoem was ʼn sterk geboude jongeling en was die heelagter wat die opponente ver kon terugjaag. 

So gebeur dit dat ons teen Witpoortskool in die finaal vir die beker speel. Ons is twee nul voor in die doodsnikke van die wedstryd. Die kaptein kom sê vir Nick dat die wedstryd omtrent verby is en as hy die bal kry moet hy dit net uitskop. Die toeskouers het sommer op die kantlyn gestaan  want daar was geen paviljoene nie. Daar staan ook ʼn vrou met ʼn baba in ʼn stootkarretjie reg op die lyn. Sy uiter haar misnoeë met “ daai ou dikkop gaan seker nou uitskop!” Haar woorde was skaars koud toe skop broer Nick die bal en dit tref die stootkarretjie en jy sien net bottels en kombersie  trek. Gelukkig was die baba ongedeerd.

Broer Nick en Koot vind  beide werk in die spoorweg werkswinkel as assistente vir ʼn ambagsmanne vanaf 1940 tot 1945 . Die vergoeding was min want hulle was net handlanger wat net vashou en aangee. 

Broer Nick trou met sy eerste liefde Hannie Pretorius dogter van Johanna Pretorius wat oorkant die vlei op Blesbokfontein gebly het in 1949. Hy kry ʼn betrekking as ʼn bogrondse arbeider by n myn in Benoni. (Ek neem aan dit was die Kleinfontein Myn - NP Blogger) Hulle woon op n plot in Cloverdene net buite Benoni area waar my seun Nico ( NP Blogger) sedert 1982 woon en nie ver van waar my sus Marie en Tom Mostert gewoon het nie. Kobus, Nick en Hannie se oudste seun word hier op die plotte gebore. 

Hulle verhuis  terug na Ventersdorp en huur grond om te begin boer op die plaas Rietkuil oorkanr broer Koot se plaas.  (- NP Blogger .Volgens my neef Kobus het sy pa oom Nick net ʼn enkele melkkoei gehad wat hy in die kar gelaai het met die trek Rietkuil toe! ).

Dis hier op Rietkuil dat Hannie haar vestig as ʼn baasbakker van koeke, terte  en beskuit. Sy het so goed gedoen met haar gebak dat sy met trots kon se dat sy haar eie voertuig vir aflewerings kon koop. Hulle lewer weekliks gebak sover as Potchefstroom en Klerksdorp af. 

Dus juis op pad terug Rietkuil toe na oa ʼn aflewering op 14 April 1972 dat ʼn erge tragedie gebeur. Dit was vroeg aand toe hulle en hul dogter Marie wat ons Markie genoem het in haar matriek jaar van agter  in ʼn trekker met n sleepwas bots. Hulle tref die sleepwa aan die linker kant waar Markie sit en sy sterf noodlottig op die toneel. 

Broer Nick het homself beskou as ʼn “moordenaar” en dit was ons almal se vrees dat hy heeltemal die klits sou kwytraak. Hy spring in die nag op, hardloop na buite en roep na Markie. Dan het hy blykbaar ʼn antwoord gekry en al verder en verder die nag in gehardloop. Dit het vir omtrent ses maande geduur.

Nick was voor die ongeluk n baie opgeruimde persoon met ʼn wonderlike humorsin wat altyd ʼn grappie of twee te vertel gehad het. Na die ongeluk het hy stil, byna stom geword. Nooit weer dieselfde mens wat hy was nie. Nick is die eerste van ons vyf broers wat sterf. 

(NP Blogger . Ek onthou toe ons na die ongeluk hulle gaan besoek het. My pa Willie is alleen die slaapkamer in waar oom Nick was. Die  deur was toe maar ek kon sy hartverskeurende gehuil en gekerm hoor. Ek wonder hoe my Pa hom probeer troos het. Dit was my eerste ervaring van iemand wat ʼn kind aan die dood afstaan en daardie smart het my lewe lank by my gebly. Oom Nick was daarna nooit weer dieselfde mens nie. )  

Marie (Gous) Mostert onthou dievolgede:

My Boeta (Peet) ook alombekend as Mossie was nog klein en ek nie veel groter daar op die plaaswerf.

Ek onthou die manne het gestaan en gesels toe Boeta roep "oom, oom". Oom Nick het omgekyk en toe gooi Boeta hom met n klip net bokant sy oog. 

My pa  Tom gryp hom vir  n pakslae  maar oom Nick keer en lag oor die kishou  van so n klein seuntjie -  Boeta (Peet) was seker so 2 jaar oud.


NP -  Lekkerus . Agter staan oom Nick en Oom Jantjie. Middel sit tannie Hannie en my ma Wietie en sus Wilmarie op haar skoor. Voor is Bennie, Hannetjie (Sussie) Nickie ek Nico en Marie ( Markie) 


NP  - Hannetjie ( Sussie ) tannie Hannie met Nickie oom Nick, Kobus en Poen.



                          Marie en Nico van oom Willie met Johanna van oom Koot se troue

                                                Marie Nico en tannie Wietie

                                                   Marie en Nico
Markie soos ek haar genoem het, het op die vakansie so bruin gebrand dat die bure se kinders my gevra het hoekom ek met n kleurling dogtertjie speel. 

                              Lekkerus. Tannie Wietie en Wilmarie, Hannetje ( Sussie ) en Nico

 .

Tannie Hannie en Hannetjie. 
                                                   

                               Barry en Hannetjie saam met Ds RP Botha van NHK Primrose.

                                                             Poen en Renchia


Oom Flip


Volgens oom Willie was oom Flip langer in die Noorde as 1941. 



Marie (Gous) Mostert onthou dievolgende:

Oom Flip het mos van die wa af geval en sy hak vergruis en daar was sprake dat hy sy voet  kon verloor maar op die ou end behou seker ouma se gebede. Sy was bekend as ʼn voorbidder. In sy jare as alkoholis kom hy een more by oupa en se hy moet saamry, Hy het die vorige nag op oom Thysie se draai met die lorrie  oor die heining gevlieg.  Oupa moet saam dat hul die draad kan regmaak. Oupa het gebrom oor die dronkmans praatjie maar hul is toe weg met draad en tang. Oupa was baie verbaas om sy trok op al 4 wiele in die veld te sien staan met net die boonste draad af. Hy sien toe die trok se spore op die draai en daar hou dit op en besef toe die wal en spoed het die sprong veroorsaak. Die draad is reg gemaak en oom Flip het met die trok daar weggery, niks oorgekom. 


(NP ) - Op die 1959-1960 foto herken ek Ouda agter en Blou tweede van regs. Die ander meisie kan dalk Toefie wees en die seun agter my wat die stuurwiel vashou.


                            vlnr Tonie Ouda Stella en Nico. Voor is Cielie Mostert. (Ouda reeds oorlede NP)


Toefie van oom Flip


Bloui. Een van die baie JN Pretorius neefs. (Oorlede 2024)

Toefie en Echard du Toit se troue

Blou se troue. Links is oom Flip, tannie Lettie en Tonie

Oom Willie se onthou. 

Phillippus Johannes Pretorius bekend as Flip gebore 28 Augustus 1918 oorlede 14 September 1989 . 71 jaar oud.

 My broer Flip trou met Aletta Slabbert van die Plaas Theusendoorns. ( Ons het sommer gepraat van Thysiedoorns)

Hulle het vier kinders.
Ouda.
Maria Magdalena beter bekend as Toefie.
Jacobus Nicolaas bekend as Blou.
 Antonie was ons Tonie of Toon genoem het.
(NP teen 2025 was Ouda en Blou reeds oorlede) 

 Flip was van kleintyd af ʼn gebore boerseun en het in alles was boerdery betref in belang gestel en was ook oupa Nick se regterhand op die plaas. Hy was ons gesin se kapokhaantjie. Hy het goed gevorder op skool en was die sokkerspan se regter vleuel.

Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog sluit Flip by die Koos de la Rey regiment aan en word bevorder tot die rang van sersant. Koos de la Rey was bekend as die leeu van Wes-Transvaal. So was die regiment embleem dan ook  n sittende maanhaar leeu. Gedurende die tyd was daar 24 regimente in Suid Afrika. 

Flip is vroeg Egipte toe waar die regiment die skepe in Alexanderbaai bewaak het. Een van die skepe het n vrag wynvate met wyn aan boord gehad. Een van Flip se onderdane het gevind dat hy een van die hoepels liggies kap kan hy die hoepel effens weg skuif.. Hy het n dun gaatjie deur die wand geboor en die wyn het in ʼn dun straal uitgespuit, Sodra sy beker dan vol was het hy die gat met n hout proppie verseël en die hoepel terug geskuif.  So kon al die manskappe vir hulle soos en wanneer hulle wou drink.

Die Kaptein van die groep doen eendag onverwags ʼn inspeksie en vind Flip en al sy manskappe is letterlik poep dronk. Die manskappe kry alma ʼn klomp ure straf dril en Flip se rang word oneervol weg geneem.

Na die oorlog is Flip ʼn volslae alkoholis en het ʼn stryd met drank vir baie jare. Hy doen na baie jare ʼn drie weke rehabilitasie op Potchefstroom omdat sy boerdery daaronder gely het

Flip was nogal ʼn goeie musikant en kon baie mooi sing. Hy het ʼn pragtige groot swart kitaar besit met ʼn besonderse goeie klank. met oujaar en nuwejaar was hy die musikant.\

Flip het na sy rehabilitasie ʼn pragtige huis op Blesbokfontein gebou. 

 NP Ongelukkig hou my Pa se storie oor oom Flip hier op. Ek onthou verder.

Oom Flip koop in 1954 sy broers en susters se erfdeel in Blesbokfontein uit teen 100 pond elk.  In die nuwe huis op Blesbok was daar ʼn kabinet met vele trofees. Ek neem aan dit was vir beeste en perde toekennings.

Ek onthou hy was besonder lief vir perde en het gereeld aan skoue met sy ryperde deelgeneem. Hy het ook perde karre gehad ao. ʼn koets wat hy vir troues gebruik het.Hy was ook een van die perde ruiters  in die prent die Kavaliers in die 1960 jare.Verder het oom Flip vertel dat die weermag hom genader het met die oog om ʼn berede eenheid op die been te bring. Hy moes reel vir ruiters en perde en die oefening was in Thabazimbi omgewing. Oom Flip was baie mismoedig na die oefening want die perde het baie swaar gekry in die boswêreld maar die weermag was baie ingenome met die oefening en die berede eenheid is later gestig.Oom Flip was blykbaar  al die jare  betrokke by die weermag want ek onthou by sy begrafnis het drie uniform soldate tot by die graf gemarsjeer, gehalt en toe gesalueer.

Oom Flip was ʼn kleurryke figuur en daar moet baie stories wees. 

NP.  Ek wonder wat sy rede was om by die oorlog betrokke te raak? 


Tannie Cielie

Oom Willie se onthou.

My suster Cielie bekend as Sus of Ousus.– Ek verwys na haar as Ousus.  
Cecilia Anna Pretorius gebore 1912

Op sommer ʼn baie jong ouderdom het Ousus probleme met haar oë ontwikkel. Dit was so erg dat sy byna blind geword het. Toe ek so 7 of 8 jaar oud was, was dit my werk om haar vleis en groente kleiner te sny. Haar blindheid het so erg geword dat sy in Johannesburg hospitaal deur ʼn ene Dr Marais geopereer is.
Oupa Nick se suster,  Saar het in Westdene gebly en hy het daar vir ʼn paar dae tydens die operasie oorgebly. 

Ousus moes vir ʼn paar maande in die hospitaal bly.  Gedurende hierdie tyd het Oupa Nick met sy trapfiets Johannesburg toe gery. ‘n Afstand  Ons was regtig arm want ʼn naweek kaartjie wat van Vrydag tot Maandag geldig was, was  slegs een pond tien.
Ousus was daardie jaar 9 maande uit die skool maar het nietemin met lof geslaag. Sy was ʼn slim kind en moes vir 6 maande na die operasie ʼn donker bril dra. 
Ousus het later in Johannesburg  gaan werk en het by tant Saar in Westdene geloseer. 
Sy trou met Gert Strydom en hulle woon in Germiston waar sy in n klerefabriek werk en later die Hoofmeisie pos beklee.
Gert het gedurende die oorlog by die weermag aangesluit en was vir byna 5 jaar in Egipte gestasioneer. Ousus het vir 3 jaar my gratis lossies gegee totdat ek in 1942 by die lugmag aangesluit met. Hulle het in High Rd Germiston gewoon tot na die oorlog.

Ousus en Gert het geen kinders gehad nie en neem ʼn dogter van so 6 jaar oud aan, Haar naam was Stella. Stella het  nie aanpas nie, Sy wou altyd terug na haar regte familie, Sy verdwyn later as ʼn jong volwassene uit Gert en Sus se lewe. Toe Gert is in 1987 oorlede is woon Stella die begrafnis by maar dis die laaste keer dat ons haar sien. Ousus sterf kon ons haar nie opspoor nie.  
Na Gert die dood versorg ek Ousus se huis en tuin in Atlasville totdat a.g.v. gesonheid sy nie meer alleen kan bly nie en in Solheim Ouetehuis hoër op in Sun straat opgeneem word tot haar dood. 

NIco Pretorius se onthou
Ek dink tannie Sus was maar eensaam in die Ouetehuis. Die kamertjie was klein en sy het niemand daar geken nie. Ek dink behalwe my Pa was daar was baie besoekers behalwe soms een van die Mostert kinders.
  
Hulle plot was in Pononaweg in Pomona Kempton Park en bestaan vandag nog  Ironies dat die plaaslike owerheid meer as 50 jaar gelede tussen 20 na 30 meter van die plot afgesny en uitgekoop het om Pomonaweg te verbreed. In 2025 was die pad is nog nooit verbreed nie.

Dit was ʼn groot huis met ʼn  groot tuin en groot bome. Daar was ook n groot vrugteboord en ʼn rondawel agter die huis waar oom Gert se ma tant Fiena gebly het. Ons her gereeld daar vrugte gaan pluk vir my Ma om in te le of konvyt te kook.

Ons het baie by tannie Cillie en oom Gert op die plot gaan kuier en aan die einde van die jaar het ons gewoonlik saam met die Morterts daar bymekaar gekom op ou Kersaand of Kersdag soms Nuwejaarsdag. Een van die denne bome is gereeld met liggies Desembermaand versier. Tannie Sus het nie meer gewerk nie en baie tyd aan haar tuin spandeer. 

Later toe oom Gert aftree het hulle die plot verkoop en ʼn ou huis in Atlasville Boksburg gekoop wat oom Gert gerestoureer het. Oom Gert was baie handig veral met bou met ysterwerk. Hy het vir my Ma staanders gemaak vir blomme rangskikkings, staanders vir plante, stoeltjies vir my en Wilmarie  en selfs ʼn stuurwiel vir my kaskar. Noot was iets vir hom onmoontlik of  teveel moeite nie. Kleintyd was hy my held. As my Pa iets moeiliks by die huis moes doen was oom Gert altyd daar om te help.  

Soms het hy en my Pa ʼn bees saam gekoop om te slag. Ons is dan Blesbokfontein toe. Oom Gert het die skietwerk gedoen en dan is die karkas aan die seringboom opgehang en het die slag proses begin. Laat middag is die groot stukke vleis in oom Gert se bakkie gelaai en die terugtog begin. Die laaste deel is met sy vleis verwerkings masjien by die huis gedoen. Inderdaad ʼn groot werk.
 
Oom Gert was aanvanklik ʼn ambagsman (ketelmaker) op die Spoorwee maar die tyd wat ek hom geken het was hy werksaam by die Kemptonpark Munisipaliteit. Hy het baie met sy hart gesukkel en dit was later ook die oorsaak  van sy dood. 

Die tyd wat hulle in Atlasville gebly het, het ek hulle baie in die Apteek gesien wanneer oom Gert sy medisyne kom haal het.

Marie Gouws ( Mostert ) onthou Stella so:

Stella was 5 jaar oud by aanneme. Haar ouers het baie kinders gehad en sy moes weeshuis toe. Stella het altyd gesê as sy groot is gaan sy haar ouers soek. Na skool het sy hulle opgespoor maar was geweldig verarm en kon nie regtig ʼn band met haar vorm nie. Sy is maar weer terug na oom Gert en tant Sus. 

Oom Koot

Oom Koot se tagtigste verjaardag. Van links na regs. Wietie en Willie. Koot en Sannie. Cielie.

                                     Johanna, Bettie Cielie ( Koekie ) en Marie van oom Nick


                                               Charlie Marie Lotz met strooi meisies Markie en Koekie.

                                                            Charlie Lotz en Marie

Nico en Kootjie 


Vakansie op Lekkerus. Tannie San en oom Koot. Voor Gert, Marianne, Nico Wilmarie en Kobus (Kootjie)

Oom Luk

 

Oom Luk

Willie Pretorius skryf

Broer Luk.

Hendrik Dawid Pretorius. Gebore 1910

Luk verlaat skool na standerd ses en  verhuis op ʼn stadium na Johannesburg en begin werk as ʼn vragmotor bestuurder op die SA Spoorweë. 

Hy het gewoonlik eenmaal per maand met die trein op Blesbokfontein kom kuier. My Pa het hom dan op die trein stop - Gromofont so teen middernag op ʼn Vrydagaand gaan. Gromofont was is vernoem ons buurplaas – Groot Modderfontein. Dit was sowat omtrent 12 km van die huis af. 

Met ʼn perdekar twaalfuur die nag was nie maklik nie. Ek en broer Flip het altyd saam gery om die hekke oop en toe te maak. 

Sondae het Luk sy skoene vir my en Flip gegee om skoon te maak en vir ons elk 6 pennies gegee. Flip het dan met sy fiets die 16km Ventersdorp toe gery en vir 3 pennies ʼn bos piesangs gekoop en vir die ander 3 pennies n klomp dadels en dan heerlik geëet.

Die ongeluk waar ek my been gebreek het, het juis op ʼn Sondag middag gebeur toe ons met die perdekar vir Luk moes gaan aflaai. (NP blogger. Ek twyfel  of oom Luk betyds was vir die trein met al die drama)

Broer Luk trou met ʼn nooi Elizabeth Labuschagne van die plaas Kaalfontein. Ons het haar Ous genome.  Hulle het net een dogter genaamd Elizabeth wat hulle die bynaam “Skat” gegee het. Hulle vestig in Westdene Johannesburg. 

Skat studeer onderwys en trou met ʼn onderwyser Louis Boshoff   Hulle verhuis op ʼn jong ouderdom Mosselbaai toe en raak vervreemd van die Transvaalse Pretorius familie.

Na Ous se dood trou Luk weer.

Gedurende die tweede wêreldoorlog kon ons net bruin broodmeel koop. Luk was baie handig met houtwerk en maak toe twee soorte meelsiwwe. Die een was n houtkassie met fyn gaasdraad wat jy dan heen en weer geskommel het. Dis gebruik om bruin meel  te sif vir witbrood of vir koekbak mee Die ander een was ʼn ronde sif wat op pote staan en met ʼn singer gedraai word. 

Luk en Ous het gereeld vakansie met ʼn karavaan gehou en ook ʼn paar maal in Mosambiek ʼn draai gaan maak. Hy het altyd siwwe saamgeneem wat hy dan verkoop het en sodoende sy vakansie betaal het.

Broer Luk was ʼn kranige houtwerker en gee later van tyd as gevolg van sy swak sig  en ouderdom van sy masjinerie en gereedskap vir my.  Onder andere was daar ʼn masjien wat hy self gebou het wat vierkantige tappe kon maak.  Na my aftrede het ek baie houtwerk met die masjiene en gereedskap gedoen. 

Nico Pretorius (NP Blogger) se onthou.

Ek onthou oom Luk as ʼn besondere groot man. Nie net lank nie maar ook sterk gebou. Ek onthou hom as fisies die grootste van die vyf broers.  Hy was natuurlik al in sy 50,s  toe ek my verstand gekry het. Ek onthou die eenvoudige huis in Westdene maar ons het min daar gekuier Ek onthou ʼn Puegeot 403  kar en later n Rambler Hornet. Die enkel garage was gepak met gereedskap en die kar het net-net daarin gepas. Een keer het hulle met die klein ronde karavaan op Blesbokfontein kom kuier en dit daar onder die seringboom maak staan. Wat die geleentheid was weet ek nie.

Ek onthou dat oom Luk tot op ʼn hoë ouderdom  nog pyp gerook het.

Een geleentheid, ek was baie jonk, het ons een aand by hulle gaan kuier omdat oom Luk siek was. In die voorportaal was daar ʼn groot staan horlosie wat met kettings en gewigte opgewen word. Nogal n indrukwekkende meubelstuk. Tant Ous noem toe dat die horlosie staan omdat die man wat dit opwen siek was. Dit was een van daai oomblikke wat vir my as kind onverklaarbaar was. Hoe is die moontlik dat ʼn man nou spesiaal kom om die horlosie op te wen?  Min wetend dat sy op oom Luk se siekte sinspeel. My Pa moes dit eers vir my verduidelik

Die laaste keer wat ek oom Luk gesien het was toe ek hom gaan oplaai het vir ʼn begrafnis van een van die broers. 

Dit het altyd vir my gevoel dat my pa Willie min kontak met oom Luk gehad het,  dalk  a.g.v. die ouderdoms verskil van 11 jaar. Ek kan geen geleentheid onthou wat hulle by ons in Germiston kom kuier het nie. Wat ek wel onthou is wanneer Oupa en Ouma kom kuier het, dan het my pa Willie hulle daar in Westdene gaan haal om ook by ons en by dan tannie Cielie en Sussie te kuier

Dit was juis met so kuier by ons waar Ouma aan tafel ʼn beroerte gekry het en op 12 Augustus 1965 in Germiston hospitaal oorlede is. Sy was 77 jaar oud 


Oupa JN Pretorius en Ouma Malie

Oupa  en Ouma Pretorius en ek (NP blogger) voor die plaashuis op Blesbokfontein 1958


Oupa op die strand. Ek raai dit was saam met tannie Cielie en oom Gert. Die vrou wat terug kyk lyk na tant Fiena oom Gert se ma. NP

Hierdie foto is geneem met Oupa Nick en Ouma Malie Pretorius se 60se huweliksherdenking. Agter staan ooms Flip Nick en Willie. Voor sit tannie Marie, en Cillie. Langs ouma sit oom Luk en Koot.




Oupa, Ouma en Christo van Marie Lotz. 

Bette, Stella en Koekie, Dan middel is Marie Peet en Rina, Voor is Nico Cielie en Kobus (Kootjie) en Christo van Marie

Heel links is Charlie en Marie Lotz. Oom Tom en tannie Sussie. Oom Gert en tannie Cielie. Oom Koot en tannie Lettie. Stella en tannie Wietie en Bettie. Voor langs Marie sit tannie Fiena oom Gert se ma.


                      Oupa Pretorius en ek dink Blou in die middel, Herken nie die derde seun nie