Cielie Mostert Theunisen se onthou.
Ma Mossie het ons geleer om die lewe te
vat soos dit kom en om die beste daarvan te maak. Om te lag al wil jy huil. Om
die humor in elke situasie, al is dit ‘n slegte situasie, raak te sien. So het
ons o.a. Kobie en die invloed van ‘n gestremde op ‘n familie leer hanteer.
Sy het ons geseën met haar talente …
skeppend met woorde en met haar hande. Sy was so lief om kosmos te skilder en
was mal oor ‘n donkie. In my huis, en ook in my skoonma se huis, is donkies wat
sy geteken het ... altyd saam met blomme. Oom Willie, ek hoor by Nico dat oom
ook nog ‘n skildery van haar in jou kamer het ...
Sy was ‘n wyse vrou en bitter baie lief
vir haar mense. Ek dink van al die kinders was ek die meeste bederf omdat sy
vir 15 jaar by ons ingewoon het. My kinders het wonderlike herinneringe aan ‘n
dierbare ouma.
Haar lewensteks was Spreuke 30:7-9:
Net twee
dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie:
Moenie
toelaat dat ek vals is en lieg nie;
Moet my
nie arm maak of ryk nie,
Gee my
net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën nie en sê:
Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam
oneer aandoen nie.
Ek onthou al van kleintyd af haar
vertellings oor haar korrespondensie met Fanus Rautenbach met ‘n program wat hy
op afrikaanse radiodiens gehad het. Sy was dink ek minister van “Huis-en-haard
en plaaslike aangeleenthede”. Sy het haarself “Boervroutjie” genoem. As ek reg
onthou het hy partykeer ook per telefoon gesels met haar. Dit was in die
omgewing van 1964 – ek was maar toe 5 jaar oud en Kobie nog nie eens daar nie.
Lank gelede....
Sy het baie vertel van die plaas en ek
dink sy was maar ‘n alleenkind so in haar eie verbeeldingswereld. Sy het o.a.
vertel van al haar katte wat in die stad gaan werk het en wat vir haar baie
geld sou inbring volgens die boeties se stories .... later eers besef hulle is
van kant gemaak. Syt vertel syt ‘n draadpoppie gehad – lank en maer – en hoe sy
vir die poppie klere gemaak het. Sy het ook haar katte aangetrek.
Vertel van nagmaal naweke. Dit het altyd
vir my so lekker geklink.
Vertel van perdekar ry dorp toe. Ouma het
altyd ‘n hekelwerkie by haar gehad en al sou die perdewa probleme langs die pad
optel, het sy gesit en hekel om die tyd om te kry.
Vertel van nuwejaar en hoe almal bymekaar
aangesluit het op pad na ‘n piekniekplek.
Vertel van troues en ‘n storie van “pen
steek” of so iets – al die jong manne te perd - wat ‘n troutradisie was
en dan het jy die wit vlag gewen wat jy dan heel voor op jou perd tot by die
onthaal kon neem . Een keer het oom Flip die vlag gewen wat ‘n groot storie is
as jy gewen het ... dalk onthou Oom meer van dit.
Sy vertel van ouma en oupa wat so
vroegoggend stiltetyd gehou het en dan ook saam halleluja liedere gesing het.
Ek onthou vaagweg daarvan maar was maar pas 5 toe ouma oorlede is. Soms
wonder ek of mens regtig onthou ... as ek so praat van vaagweg ... en of dit ‘n
mens se verbeelding is en omdat jy die opset van die plaas in herinnering kan
roep, jy jou eie onthou rondom vertellings bou ...
Sy het vertel van ‘n Van den Berg gesin
waarvan die pa so vroeg oorlede is en daar ek dink 9 kinders was wat toe in die
weeshuis geplaas is omdat sy nie voltyds na hulle kon omsien nie want sy moes
toe as verpleegkundige voortgaan met haar werk. Die kinders het dan
skoolvakansies huis toe gekom.Sy het vertel die tannie Van den Berg het
jaarliks ‘n trommel vol koekies gebak wat sy vir die kerk se basaar gestuur
het. Ouma moes dit dan by die basaar besorg. Ma Mossie het altyd so geloer na
die koekies, mooi verpak in hopies, soort by soort en so lus geword daarvoor
maar sy kon niks daarvan eet nie want Ouma het gese dit is die kerk se goed.
Hier in Pietersburg is een van my groot vriendinne Isabel van den Berg en toe
sy en ma Mossie een dag so lekker sit en gesels kom my ma agter dat Isobel se
man Johan, een van die Van den Berg kinders is. Oupa het hul altyd op die
stasie gaan haal met skoolvakansies en dan weer op die trein gaan sit as die
skole weer begin. My ma het altyd saam gery. Sy het groot agting gehad vir die
Tannie Van den Berg wat altyd gesorg het dat die kinders na ‘n skoolvakansie
skoon en netjies terug is skool toe vir die volgende termyn.
Sy het vertel van iemand wat sy vrou met
‘n byl dood gekap het en toe na ouma toe gekom het vir hulp. Bebloed en hoe
ouma gaan help het ... klink na ‘n riller storie.
Syt vertel van Tannie Sus toe sy al uit
die huis was en “slim” gaan word het in die stad, ouma se huis so kom
herrangskik het as sy naweke kom kuier het. Ouma het dit maar toegelaat en as
tannie sus terug is stad toe, alles maar weer teruggeskuif het soos dit was. Ek
dink my ma en ouma se persoonlikhede was baie dieselfde ...
Ma Mossie was deur die plaasvolk “Mapir”
genoem wat iets beteken het soos “Die ounooi het jou gekry toe sy al oud
was”. Syt ‘n gediggie geskryf van
Seringboom bessie,
Seringboom blom
Mapir, Mapir,
Jy’t huis toe gekom.
Die seringboom beteken in my onthou
“plaas”. Die skoppelmaai. Die buite koelkamer. Die rieme aan die takke.
Die lekker speel ... oupa het sy tabaksakkies vir my gebere en as ek kom kuier
het het ek die sakkies vol seringbessies gemaak en huis toe gevat. Om wat mee
te maak??
Hy het ook ‘n sakkie vol sente vir my
gegee vir sommer net ....
Ek onthou haar stories van die Patsies ...
die hasie familie ... en hoe sy altyd situasies in die huis ingeweef het
in haar vertellings en ons so lewenslesse geleer het. Kon nooit verstaan hoe
die hasies so alles van ons doen en late kon weet nie. As ons gevra het hoekom
‘n babatjie se naels vuil kan raak want hulle slaap dan net heel dag het sy
o.a. gese dit is omdat hulle in die aand in die Patsies se tuin moet gaan werk.
Met groot wysheid en ‘n lewendige verbeelding het sy ook ons lewens met woorde
en stories helder ingekleur ...
Die volgende is ook deur haar geskryf ...
“Ek sien in my
gees die glorie en die almag van die Heer. Die Allerhoogste wat in liefde oor
sy Koninkryk regeer ....”
Wanneer ek
hierdie lied sing of hoor dan voel dit vir my asof ek reeds in marsjeer deur
die mooi roomblink pêrelpoort. Ek sien die onbeskryflike fondamente van die 12
soorte edelstene, loop verby die engel wat op wag staan, verby die wonderlike goue
lig wat jou toevou en omstraal, loop langs die kristal helder stroom by die
boom van die lewe verby, op die blinkende goue strate tot voor die troon van
God. Dit alles is so onbeskryflik mooi en waar en reg. Die Here God verlig
alles en die Lam is sy lamp.
Die Grootsheid
hiervan kan by die lees alleen my laat voel soos ‘n opgerolde wurmpie.
Genade
is dat ek nie vir die Nuwe Jerusalem hoef te wag nie. Ek kan reeds nou voor God
se blinkende, winkende troon staan, so maklik soos: buig af, maak jou oë toe en
jou gemoed oop en sing: “Loof Hom, prys Hom Halleluja. Hy is Koning, Hy regeer
No comments:
Post a Comment