Oom Willie skryf.
My broer Nick (Nicolaas Willem Pretorius gebore 1916 sterf 22 Maart 1984)
Nick was in ons gesin bekend as die stil sterkman. Hy was stewig en sterk gebou. My broer Flip jonger as Nick was die kapokhaantjie van die gesin en hy het toe hulle tieners was gereeld vir Nick uitgedaag vir ʼn geveg of getart en self verkondig dat hy eendag Nick se nek gaan breek. Flip het geglo Nick was bang vir hom.
Op ʼn dag het die twee toe in die land waar ons gwerk het handgemeen geraak en Nick het vir Flip ʼn pakslae gegee en sy grootpraat heeltemal uit hom uit geslaan. Dit was die einde van Flip se grootpratery.
Toe Nick so 13-14 jaar oud was het hy een nag ʼn epileptiese aanval gehad en van die bed afgeval en sy tong stukkend gebyt dat die bloed loop. My pa sukkel om sy mond oop te kry sodat hy kan asemhaal.
My ma Malie kry toe die raad van Katjiepoet olie ( Catje Putje olie ) op suiker vir broer Nick. So werk dit dat wanneer hulle ons alleen by die huis moet laat my ma Malie dan vir my en Flip gewys hoeveel druppels op suiker ons vir Nick moes gee ingeval van ʼn aanval. Flip het dan sommer vroeg reeds die medisyne gereed gehad vir Nick.
Nick het ons toe begin manipuleer. “ Ek sal drink as julle dit of dat vir my doen” Ons was so bang dat hy aanval kry dat ons enigiets gedoen het solank hy sy medisyne drink.
Ons dokter Cochrane was ʼn Skot wat nie ʼn word Afrikaans kon praat nie. My ouers kon ook geen woord Engels praat nie. Die ander geneesheer Dr Schullenberg was weer ʼn Duitser wat ook geen Afrikaans kon praat nie. Hoe ons gediagnoseer en behandel is het bly ʼn raaisel.
Beide broers Nick en Flip speel eendag vir die skool se eerste span sokker. Nick soos genoem was ʼn sterk geboude jongeling en was die heelagter wat die opponente ver kon terugjaag.
So gebeur dit dat ons teen Witpoortskool in die finaal vir die beker speel. Ons is twee nul voor in die doodsnikke van die wedstryd. Die kaptein kom sê vir Nick dat die wedstryd omtrent verby is en as hy die bal kry moet hy dit net uitskop. Die toeskouers het sommer op die kantlyn gestaan want daar was geen paviljoene nie. Daar staan ook ʼn vrou met ʼn baba in ʼn stootkarretjie reg op die lyn. Sy uiter haar misnoeë met “ daai ou dikkop gaan seker nou uitskop!” Haar woorde was skaars koud toe skop broer Nick die bal en dit tref die stootkarretjie en jy sien net bottels en kombersie trek. Gelukkig was die baba ongedeerd.
Broer Nick en Koot vind beide werk in die spoorweg werkswinkel as assistente vir ʼn ambagsmanne vanaf 1940 tot 1945 . Die vergoeding was min want hulle was net handlanger wat net vashou en aangee.
Broer Nick trou met sy eerste liefde Hannie Pretorius dogter van Johanna Pretorius wat oorkant die vlei op Blesbokfontein gebly het in 1949. Hy kry ʼn betrekking as ʼn bogrondse arbeider by n myn in Benoni. (Ek neem aan dit was die Kleinfontein Myn - NP Blogger) Hulle woon op n plot in Cloverdene net buite Benoni area waar my seun Nico ( NP Blogger) sedert 1982 woon en nie ver van waar my sus Marie en Tom Mostert gewoon het nie. Kobus, Nick en Hannie se oudste seun word hier op die plotte gebore.
Hulle verhuis terug na Ventersdorp en huur grond om te begin boer op die plaas Rietkuil oorkanr broer Koot se plaas. (- NP Blogger .Volgens my neef Kobus het sy pa oom Nick net ʼn enkele melkkoei gehad wat hy in die kar gelaai het met die trek Rietkuil toe! ).
Dis hier op Rietkuil dat Hannie haar vestig as ʼn baasbakker van koeke, terte en beskuit. Sy het so goed gedoen met haar gebak dat sy met trots kon se dat sy haar eie voertuig vir aflewerings kon koop. Hulle lewer weekliks gebak sover as Potchefstroom en Klerksdorp af.
Dus juis op pad terug Rietkuil toe na oa ʼn aflewering op 14 April 1972 dat ʼn erge tragedie gebeur. Dit was vroeg aand toe hulle en hul dogter Marie wat ons Markie genoem het in haar matriek jaar van agter in ʼn trekker met n sleepwas bots. Hulle tref die sleepwa aan die linker kant waar Markie sit en sy sterf noodlottig op die toneel.
Broer Nick het homself beskou as ʼn “moordenaar” en dit was ons almal se vrees dat hy heeltemal die klits sou kwytraak. Hy spring in die nag op, hardloop na buite en roep na Markie. Dan het hy blykbaar ʼn antwoord gekry en al verder en verder die nag in gehardloop. Dit het vir omtrent ses maande geduur.
Nick was voor die ongeluk n baie opgeruimde persoon met ʼn wonderlike humorsin wat altyd ʼn grappie of twee te vertel gehad het. Na die ongeluk het hy stil, byna stom geword. Nooit weer dieselfde mens wat hy was nie. Nick is die eerste van ons vyf broers wat sterf.
(NP Blogger . Ek onthou toe ons na die ongeluk hulle gaan besoek het. My pa Willie is alleen die slaapkamer in waar oom Nick was. Die deur was toe maar ek kon sy hartverskeurende gehuil en gekerm hoor. Ek wonder hoe my Pa hom probeer troos het. Dit was my eerste ervaring van iemand wat ʼn kind aan die dood afstaan en daardie smart het my lewe lank by my gebly. Oom Nick was daarna nooit weer dieselfde mens nie. )
Marie (Gous) Mostert onthou dievolgede:
My Boeta (Peet) ook alombekend as Mossie was nog klein en ek
nie veel groter daar op die plaaswerf.
Ek onthou die manne het gestaan en gesels toe
Boeta roep "oom, oom". Oom Nick het omgekyk en toe gooi Boeta hom met n klip net bokant
sy oog.
My pa Tom gryp hom vir n pakslae maar oom Nick keer en lag oor
die kishou van so n klein seuntjie - Boeta (Peet) was seker so 2 jaar oud.
NP - Lekkerus . Agter staan oom Nick en Oom Jantjie. Middel sit tannie Hannie en my ma Wietie en sus Wilmarie op haar skoor. Voor is Bennie, Hannetjie (Sussie) Nickie ek Nico en Marie ( Markie)
Markie soos ek haar genoem het, het op die vakansie so bruin gebrand dat die bure se kinders my gevra het hoekom ek met n kleurling dogtertjie speel.
No comments:
Post a Comment