Monday, 23 October 2017

Oom Luk

 

Oom Luk

Willie Pretorius skryf

Broer Luk.

Hendrik Dawid Pretorius. Gebore 1910

Luk verlaat skool na standerd ses en  verhuis op ʼn stadium na Johannesburg en begin werk as ʼn vragmotor bestuurder op die SA Spoorweë. 

Hy het gewoonlik eenmaal per maand met die trein op Blesbokfontein kom kuier. My Pa het hom dan op die trein stop - Gromofont so teen middernag op ʼn Vrydagaand gaan. Gromofont was is vernoem ons buurplaas – Groot Modderfontein. Dit was sowat omtrent 12 km van die huis af. 

Met ʼn perdekar twaalfuur die nag was nie maklik nie. Ek en broer Flip het altyd saam gery om die hekke oop en toe te maak. 

Sondae het Luk sy skoene vir my en Flip gegee om skoon te maak en vir ons elk 6 pennies gegee. Flip het dan met sy fiets die 16km Ventersdorp toe gery en vir 3 pennies ʼn bos piesangs gekoop en vir die ander 3 pennies n klomp dadels en dan heerlik geëet.

Die ongeluk waar ek my been gebreek het, het juis op ʼn Sondag middag gebeur toe ons met die perdekar vir Luk moes gaan aflaai. (NP blogger. Ek twyfel  of oom Luk betyds was vir die trein met al die drama)

Broer Luk trou met ʼn nooi Elizabeth Labuschagne van die plaas Kaalfontein. Ons het haar Ous genome.  Hulle het net een dogter genaamd Elizabeth wat hulle die bynaam “Skat” gegee het. Hulle vestig in Westdene Johannesburg. 

Skat studeer onderwys en trou met ʼn onderwyser Louis Boshoff   Hulle verhuis op ʼn jong ouderdom Mosselbaai toe en raak vervreemd van die Transvaalse Pretorius familie.

Na Ous se dood trou Luk weer.

Gedurende die tweede wêreldoorlog kon ons net bruin broodmeel koop. Luk was baie handig met houtwerk en maak toe twee soorte meelsiwwe. Die een was n houtkassie met fyn gaasdraad wat jy dan heen en weer geskommel het. Dis gebruik om bruin meel  te sif vir witbrood of vir koekbak mee Die ander een was ʼn ronde sif wat op pote staan en met ʼn singer gedraai word. 

Luk en Ous het gereeld vakansie met ʼn karavaan gehou en ook ʼn paar maal in Mosambiek ʼn draai gaan maak. Hy het altyd siwwe saamgeneem wat hy dan verkoop het en sodoende sy vakansie betaal het.

Broer Luk was ʼn kranige houtwerker en gee later van tyd as gevolg van sy swak sig  en ouderdom van sy masjinerie en gereedskap vir my.  Onder andere was daar ʼn masjien wat hy self gebou het wat vierkantige tappe kon maak.  Na my aftrede het ek baie houtwerk met die masjiene en gereedskap gedoen. 

Nico Pretorius (NP Blogger) se onthou.

Ek onthou oom Luk as ʼn besondere groot man. Nie net lank nie maar ook sterk gebou. Ek onthou hom as fisies die grootste van die vyf broers.  Hy was natuurlik al in sy 50,s  toe ek my verstand gekry het. Ek onthou die eenvoudige huis in Westdene maar ons het min daar gekuier Ek onthou ʼn Puegeot 403  kar en later n Rambler Hornet. Die enkel garage was gepak met gereedskap en die kar het net-net daarin gepas. Een keer het hulle met die klein ronde karavaan op Blesbokfontein kom kuier en dit daar onder die seringboom maak staan. Wat die geleentheid was weet ek nie.

Ek onthou dat oom Luk tot op ʼn hoë ouderdom  nog pyp gerook het.

Een geleentheid, ek was baie jonk, het ons een aand by hulle gaan kuier omdat oom Luk siek was. In die voorportaal was daar ʼn groot staan horlosie wat met kettings en gewigte opgewen word. Nogal n indrukwekkende meubelstuk. Tant Ous noem toe dat die horlosie staan omdat die man wat dit opwen siek was. Dit was een van daai oomblikke wat vir my as kind onverklaarbaar was. Hoe is die moontlik dat ʼn man nou spesiaal kom om die horlosie op te wen?  Min wetend dat sy op oom Luk se siekte sinspeel. My Pa moes dit eers vir my verduidelik

Die laaste keer wat ek oom Luk gesien het was toe ek hom gaan oplaai het vir ʼn begrafnis van een van die broers. 

Dit het altyd vir my gevoel dat my pa Willie min kontak met oom Luk gehad het,  dalk  a.g.v. die ouderdoms verskil van 11 jaar. Ek kan geen geleentheid onthou wat hulle by ons in Germiston kom kuier het nie. Wat ek wel onthou is wanneer Oupa en Ouma kom kuier het, dan het my pa Willie hulle daar in Westdene gaan haal om ook by ons en by dan tannie Cielie en Sussie te kuier

Dit was juis met so kuier by ons waar Ouma aan tafel ʼn beroerte gekry het en op 12 Augustus 1965 in Germiston hospitaal oorlede is. Sy was 77 jaar oud 


No comments:

Post a Comment